NP van Wyk Louw
het in Sutherland gebly
die sterre het daar
met hom gepraat al
was hulle stil vir my
Sutherland is een van daardie dorpe wat almal al van gehoor het, maar waarheen min mense al gereis het. Dit word beskou as die koudste plek in ons land, en met rede. Dit is egter ook nie al waarvoor Sutherland bekend staan nie. Dit is ook die huis van die sterre in hulle mooiste vorm en die SALT teleskoop, wat die grootste teleskoop in die Suidelike halfrond is.
Op pad Sutherland toe, ry ek deur die Verlatenkloof pas. Ek merk 'n seuntjie wat deur die kloof stap met 'n bees. Op 'n Woensdag. Ek skryf die eerste gedig vir my tweede digbundel in my kop, en besluit om my tweede digbundel Verlatenkloof te noem. Die pad Sutherland toe is lank, en mooi in sy eenvoud.
Onder die duisende sterre, tussen die maanstof en die heelal wat vir mens knipoog en in die hartjie van die mooie Sutherland, lê Jack of the Karoo. Jack of the Karoo spog met 3 huise onafhanklik van mekaar, Jack, die Prokureurshuis en Raka.
Ek het die voorreg gehad om in Jack tuis te gaan vir 'n paar dae terwyl ek gewerk het aan die Verlatenkloof digbundel. Jack is opgeknapte Viktoriaanse huis met 'n groot wilgerboom in die voortuin en is ten volle toegerus met drie moderne slaapkamers, twee badkamers, 'n volledige kombuis, binne-braai area en sitkamer. Dit is voorwaar 'n huis weg van die huis en die stoep is die perfekte plek om die vars Karoo lug in te asem.
Daar is iets ongelooflik aan die eenvoud van Sutherland. Asof die dorp geheime in die stof wegsteek en asof die sterre wat verskiet eventueel hier opeindig. My woorde was toe min in Sutherland - dit het werklik my asem weggeslaan. Tog gaan my hart en gedagtes gereeld terug daarheen en skryf ek maande later steeds oor wat ek daar gevoel en beleef het. Uiteindelik verstaan ek hoekom NP van Wyk Louw besluit het om daar te bly.
As jy opsoek is na iets nuut om te doen, besoek gerus met vrymoedigheid Sutherland en maak seker jy gaan tuis by Jack of the Karoo. Dis voorwaar 'n bederf!
Bespreek hier: https://www.jackofthekaroo.co.za
Comments