Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou aan Gordonsbaai terug:
Ek speel met paddavisse in 'n stroom
en kerf swastikas in 'n rooikransboom
Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aanwind blaf
Ek is die seevoël wat verhongerd dwaal
en dooie nagte opdis as 'n maal
Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:
My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.
- Ingrid Jonker
Ingrid Jonker het op 'n stadium in Gordonsbaai gebly en haar bekende gedig, Die kind is nie dood nie, is deur kunstenaar Tyrone Appolis op die hoofstrand in 'n standbeeld omskep van 'n driewiel waarin dié digter se lewe herdenk is.
Gordonsbaai is wel nie net bekend vir die standbeeld nie, maar ook vir tropiese wit strande en die see wat binne 'n oogwink na verskillende skakerings van blou verander.
Ons stop voor 185 on Beach en kan amper nie glo hoe teen aan die see hierdie wonderlike gastehuis is nie. Ons het gelees dat die eienaars die bekende Richard Loring en sy vrou Jeanette Loring is, maar het nie gedink dat ons enigsins die geleentheid sal hê om hulle te ontmoet nie. Ons was verras met sap in Richard Loring se privaat sitkamer en sy vrou Jeanette was ongelukkig tans uitstedig. Ons ontmoet hom en ek dink ek weet uiteindelik hoe dit moet voel om in die teenwoordigheid van iemand te wees wat die wêreld onherroeplik met sy kuns en talent verander het - 'n eens in 'n leeftyd, mylpaal oomblik. Richard vertel met kleur van die verhoog, van die bekendes wat hy ontmoet het, van African Footprint, Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, hoe hy verlief geraak het op die liefde van sy lewe, Jeanette, en hoe trots hy praat en spog oor sy wonderlike dogters.
Ons word gewys na ons kamer en dit voel uiteindelik of mens kan asemhaal. Die detail in die eenheid is ongelooflik, met 'n ten volle toegerusde kombuis, 'n stoep wat uitloop op 'n 180 grade uitsig van die see, 'n kamer met die gemaklikste beddens, 'n badkamer met 'n borrelbad en stort en die kamer wat ook 'n ononderbroke uitsig van die see het. Gordonsbaai, of soos Richard dit noem, Gorgeous Bay, is besig om uit te haal en te wys met die mooiste sonsondergang en as mens op die stoep staan voel dit asof jy op 'n seiljag is en uitkyk oor die see. Net daar steel Gordonsbaai my hart en voel 185 on Beach soos huis. Ek haal my notaboek uit en skryf sonder ophou drie nuwe gedigte vir digbundel drie en ek kyk na die seevoëls net om te dink aan Ingrid. Het Gordonsbaai ook 'n onsigbare toutjie aan haar hart vasgemaak?
Die volgende paar dae verken ons Gordonsbaai en kuier saam met 'n paar plaaslike mense. Ons eet 'n smul lekker middagete by Mantello Cafe en gesels oor die moontlikheid van 'n werkswinkel volgende jaar, ons proe wyn by Latebloomer Boutique Winery en word bederf deur Sjef Gerhard by Husk Streetfood Eatery en ons eet vis so vars ek het huis toe geskryf daaroor by Trawlers. Ons ry drie keer deur Rooi Els en soek walvisse en voel vryer en meer mens na elke draai. Die wêreld staan stil in Gordonsbaai.
Die aand voor ons vertrek ontmoet ons vir Richard en sy regterhand, Matlhase, by een van Bertus Basson se In die Sop Restaurante, Café Zest Mediterranean Grill vir aandete. Wat 'n ongelooflike ervaring! Die kos was van Michelin-ster gehalte en die uitsig oor die baai is verruklik. Ons eet voorgereg, hoofgereg en nagereg en teken aan dat ons nooit weer verby Gordonsbaai sal ry sonder om nie daar te stop nie.
In 'n oogwink is ons tyd in Gordonsbaai verby en beplan ons reeds aan ons volgende kuiertjie. Hierdie keer dalk met 'n voorlesing, open mic digkuns aand en 'n werkswinkel of twee in die vooruitsig.
Bederf jouself met vyf-ster gehalte verblyf in Gordonsbaai by 185 on Beach. Ek sal nooit weer elders tuisgaan nie. Jy word behoorlik op die hande gedra en voel asof jy iewers anders in die wêreld is. Bespreek gerus hier: https://185onbeach.co.za/
Comments